46ste Oscar-toekenningsaand

  46ste Oscar-toekenningsaand 

Datum 2 April 1974
Plek Dorothy Chandler Pavilion,
Los Angeles
Aanbieder John Huston, Diana Ross, Burt Reynolds, David Niven
Pryse & benoemings
Beste rolprent  The Sting
Meeste pryse  The Sting (7)
Meeste benoemings  The Sting en
The Exorcist (10 elk)

Die 46ste Oscar-toekenningsaand is op 2 April 1974 deur die Academy of Motion Picture Arts and Sciences in Los Angeles gehou om erkenning te gee aan die rolprente van 1973. Die aanbieders was John Huston, Diana Ross, Burt Reynolds en David Niven.

George Lucas het sy debuut by die Oscar-seremonies gemaak met sy nostalgiese tienerdrama American Graffiti. Dit is benoem vir beste prent (Francis Ford Coppola en Gary Kurtz), regisseur en oorspronklike draaiboek (Lucas), redigering (Marcia Lucas) en beste vroulike byspeler (Candy Clark).

Op ’n ouderdom van 10 jaar en 148 dae, het Tatum O'Neal die Oscar vir beste vroulike byspeler ontvang vir Paper Moon. Sy was, en is steeds, die jongste Oscar-wenner. Tussen haar en John Houseman (71) was daar die grootste ouderdomsverskil nog tussen twee wenners van akteurspryse.

Katharine Hepburn het haar eerste en enigste verskyning by ’n Oscar-aand gemaak om die Irving G. Thalberg-gedenkprys aan haar ou vriend Lawrence Weingarten te oorhandig. Sy het altyd wanneer sy ’n Oscar gewen het, die aanbieder of iemand anders wat met die prent verbind word, gevra om dit namens haar te ontvang. Toe sy op die verhoog stap, het sy ’n staande ovasie gekry. Haar reaksie daarop was: "Ek is ’n lewende bewys daarvan dat iemand 41 jaar kan wag om onselfsugtig te wees."

Toevallig het Debbie Reynolds, Elizabeth Taylor en Connie Stevens, almal eksvroue van die sanger Eddie Fisher, almal in die een of ander hoedanigheid by die geleentheid opgetree.

Terwyl David Niven vir Elizabeth Taylor voorgestel het om die Oscar vir beste rolprent te oorhandig, het ’n kaalnaeler, Robert Opel, oor die verhoog gehardloop. Niven het hom nie van stryk laat bring nie en gou iets kwytgeraak oor die man se "tekortkominge".


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search